Na donker kuier lekker

Vakansies op Hartenbos is iets baie besonders.

Lekker eet was nog nooit sleg nie. Die plekmatjies by Na-Donker Koswerf laat behoorlik jou mond water met al die interessante disse wat op die spyskaart is. (Foto: Denise Lloyd)

Jare glede het die jongmense tydens die Kersseisoen op die strand by Hartenbos gekuier. Vuur is gemaak en die voggies het gevloei. Menige ouers moes dikwels hul spruite al slepend van die strand tot in die motor dra. Toe die hotel by Diazstrand in 2004 geopen is, het die partytjies daarheen verskuif en was daar dikwels chaos op die strand. Die drankwet het later ingekom wat enige drank op die strand verbied het en daar moes vining planne gemaak word om die jongmense êrens te akkommodeer.

Dis die storie wat Mornay Beukes, oordbestuurder van die ATKV Hartenbos  onlangs tydens die opening van die Na-Donker Koswerf aan die gaste vertel het. Die oord het ‘n kuierplek vir die jongmense ingerig en dis Na-Donker gedoop. Dit was eers in ‘n tent en toe ‘n tydelik plek tussen die boupersele. Toe Hartenbos Seefront ontwikkel is, is daar besluit om ‘n behoorlike kuierplek in te rig en so het die gesellige Na-Donker ontstaan.

Schalk Cilliers, direkteur Sake van die ATKV het vertel dat die pad na die opening besaai was met uitdagings. Eers nadat die derde stel kontrakteurs aangestel is, is die projek voltooi en kan die ATKV nou met ‘n produk spog wat uiters bemarkbaar is aan die plaaslike inwoners sowel as die toeriste wat jaarliks die oord besoek.

“Ons weet dat omtrent alle dakke in Hartenbos die een of ander tyd lek, daarom maak ons eerder vanaand die vloere as die dak nat,” het Schalk skertsend opgemerk. Hy het bygevoeg dat daar al meer nuwe markte na die Suid-Kaap kom en daarom moet die fasiliteite van so ‘n aard wees dat dit in die behoeftes van die inwoners sowel as die toeriste kan voorsien. “Ons wou iets skep waarmee ons aan die gemeenskap wat ons so goed ondersteun, kan teruggee,” het hy gesê en dan ook die plaaslike gemeenskap uitgenooi om die fasiliteite te gebruik.

(Denise Lloyd)

ONDERSKRIF: Na-Donker in Hartenbos is nou amptelik oop. Van die rolspelers wat onlangs saam met die gaste gekuier het, is van links (voor): Mornay Beukes (ATKV Oordbestuurder), Gerhard (Oosie) Oosthuizen (ATKV), Adrie van Dyk (Seefront sentrumbestuurder), Schalk Cilliers (direkteur Sake ATKV) en David Davidson (WinPower). Agter is: Werner Kock (finansiële bestuurder ATKV),  Attie Gerber, Mark Hall (albei van GS Construction), Francois Lategan (bedryfsbestuurder Na-Donker) enWillie van der Walt (voedselbestuurder