Daar is baie opwindende nuwe geleenthede vir die laaste paar maande van die jaar by Hartenbos Seefront op die horison. Lente is om die draai en wat beter plek om die son terug te verwelkom as by die see?
Met die seisoensverandering en Desember wat stadig maar seker nader kruip, het ons baie nuwe opwindende geleenthede op die agenda.
Hierdie Saterdag, 1 September, het ons ’n groot lentedag-geleentheid waar ons die babakompetisie-wenners se pryse oorhandig. Onbekend gaan optree, daar gaan verskeie ekspo’s wees, ’n inkleurkompetisie vir die jongklomp, asook die viering van die Mond- en Voetskilders se eerste verjaarsdag. Daardie aand sal die lentedans om 20:00 plaasvind by Na-Donker en Koswerf waar jy kan kom om ietsie te eet, ’n lekker dop te drink en die aand weg te dans!
Na-Donker en Koswerf het ook elke Sondagmiddag ’n buffet met heerlike gekookte Sondagmiddag-kos, sodat die vrouens nie hulleself elke Sondag hoef af te sloof voor die stoof nie. En vir die kersie op die koek is daar altyd ’n liplekker poeding ook! In September is daar ook spesiale aanbiedings met promosies op kossoorte soos biefstuk en ribbetjies, so maak seker dat jy dit nie misloop nie. Vir die pensioenarisse is daar 10% afslag op alle items op die spyskaart op Woensdae!
Kom kyk ook deur ons winkeltjies vir afslag op al die wintersdrag en meer. Maak ook seker om die nuwe winkels Crazy Store en Harten-Hengel te besoek wat onlangs hul deure oopgemaak het. Daar is ook baie lekker eetplekkies, salonne, klerewinkels en meer waar jy jou dag kan deurbring!
Van 22 September gaan Hartenbos Seefront elke Sondag van 09:00 ’n voertuigmark hou waar jy jou voertuig kan kom parkeer en dan privaat koop of verkoop! Dit kan enige voertuig wees, waaronder motorfietse en sleepwaens. Hierdie gaan beslis ’n opwindende manier wees vir die voertuigliefhebbers om hul week mee af te sluit. So kom gerus en bring jou motor wat jy nog heeltyd wou verkoop of kom loer gerus indien jy in die mark is vir ’n motor.
Op 24 September vier ons Erfenisdag van 11:00, waar Wellness World ’n lekker kompetisie vir fikse persone (en diegene wat nie so fiks is nie) gaan aanbied. Daar kan in groepe van 2 tot 5 ingeskryf word en daar sal pryse wees vir die groepe wat die beste presteer, die beste gees het en dié met die beste kombinasie in ouderdomsverskil.
Met hierdie vol en opwindende lente-program wil jy nêrens anders wees as net hier by die Seefront nie. Bring jou vriende en familie en kom maak die beste van die pragtige sentrum en alles wat ons vir jou kan bied.